Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:8-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. want hy het gedink: as Esau by die eerste groep kom en dit uitwis, kan die ander groep dalk wegkom.

9. Daarna het Jakob gebid: “Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land en my familie toe en U sal goed doen aan my,

10. ek is al u gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.

11. Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en kinders.

12. U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.”

13. Jakob het daar oornag en die volgende môre vat hy toe uit sy besitting 'n geskenk vir sy broer Esau:

14. twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme,

15. dertig kameelkoeie met kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste.

16. Hy het elke trop aan 'n slaaf gegee en gesê: “Trek vorentoe, maar hou 'n afstand tussen die troppe.”

17. Hy het die voorste slaaf beveel: “Wanneer my broer Esau jou kry en jou vra: ‘Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?’

18. moet jy sê: Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”

19. Jakob het dieselfde opdrag aan die tweede slaaf gegee, en ook aan die derde en aan elkeen wat agter 'n trop was. Jakob het vir hulle gesê: “Wat ek vir die voorste gesê het, moet julle almal vir Esau sê as julle by hom kom.

20. Verder moet julle ook nog sê: Jakob kom agter ons aan. Hy wil aan u onderdanig wees.”Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in 'n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.

Lees volledige hoofstuk Genesis 32