Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:16-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Hy het elke trop aan 'n slaaf gegee en gesê: “Trek vorentoe, maar hou 'n afstand tussen die troppe.”

17. Hy het die voorste slaaf beveel: “Wanneer my broer Esau jou kry en jou vra: ‘Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?’

18. moet jy sê: Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”

19. Jakob het dieselfde opdrag aan die tweede slaaf gegee, en ook aan die derde en aan elkeen wat agter 'n trop was. Jakob het vir hulle gesê: “Wat ek vir die voorste gesê het, moet julle almal vir Esau sê as julle by hom kom.

20. Verder moet julle ook nog sê: Jakob kom agter ons aan. Hy wil aan u onderdanig wees.”Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in 'n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.

21. So is die geskenk voor Jakob uit gestuur, maar hy het die aand in die kamp oorgebly.

22. Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan.

23. Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan.

24. Jakob het alleen daar agtergebly, en 'n man het tot dagbreek met hom gestoei.

25. Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het.

26. Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.”Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”

27. Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.”

28. Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 32