Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Wanneer julle pa sê: ‘Die gestreepte kleinvee is jou loon,’ kry die hele trop gestreepte lammers, en wanneer hy sê: ‘Die gevlektes is jou loon,’ kry die hele trop gevlekte lammers.

9. So het God die besitting van julle pa gevat en vir my gegee.

10. “In die paartyd van die kleinvee het ek in 'n droom gesien dat die ramme waardeur die ooie gedek word, gevlek, gestreep en gespikkel is.

11. “Die Engel van God het my in die droom geroep: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’

12. “Toe sê Hy vir my: Kyk mooi: al die bokramme waardeur die ooie gedek word, is gevlek, gestreep en gespikkel. Ek het alles gesien wat Laban jou aangedoen het.

13. Ek is die God van Bet-El waar jy olie op 'n klippilaar uitgegiet en 'n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.”

14. Daarop het Ragel en Lea vir Jakob gesê: “Ons het nie meer enige aandeel aan ons vaderhuis nie.

15. Ons word deur Pa as vreemdelinge beskou. Hy het ons verkoop en die geld opgebruik.

16. Al die besittings wat God van hom afgevat het, is ons en ons kinders s'n. Doen dus gerus maar alles wat God vir jou gesê het.”

17. Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim,

18. en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän.

19. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies.

20. Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie.

21. Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe.

Lees volledige hoofstuk Genesis 31