Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:42-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

42. As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die Beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.”

43. Laban het vir Jakob geantwoord: “Dit is my dogters en my kinders en my kleinvee: alles wat jy hier sien, is myne. Waarom sou ek vandag my dogters of die kinders wat deur hulle in die wêreld gebring is, iets aandoen?

44. Kom ons maak liewer 'n ooreenkoms. Laat daar 'n getuienis wees om ons daaraan te herinner.”

45. Toe vat Jakob 'n klip en sit dit regop neer as herinneringsklip.

46. Hy het vir die mense by hom gesê: “Maak nog klippe bymekaar.” Hulle het dit gedoen en 'n kliphoop gepak. Toe het hulle daar by die kliphoop geëet.

47. Laban het die kliphoop genoem: Jegar-Sahaduta, en Jakob het dit genoem: Galed.

48. Laban het toe gesê: “Hierdie kliphoop word vandag vir ons 'n getuienis,” en hy het dit Galed genoem.

49. Laban het ook nog gesê: “Dit is Mispa, want die Here hou 'n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.

50. Dan sal jy nie my dogters mishandel nie en ook nie vir jou nog vrouens vat nie. Wanneer daar niemand anders by ons is nie, sal God getuie wees in die saak tussen ons.”

51. Verder het Laban vir Jakob gesê: “Kyk na hierdie kliphoop en kyk na die klippilaar wat ek regop gesit het. Dit staan tussen ons.

52. Hierdie kliphoop is 'n teken en die klippilaar is 'n teken: ek sal nie hier verby gaan na jou toe om jou aan te val nie, en jy sal nie hier verby kom om my aan te val nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 31