Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:15-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Ons word deur Pa as vreemdelinge beskou. Hy het ons verkoop en die geld opgebruik.

16. Al die besittings wat God van hom afgevat het, is ons en ons kinders s'n. Doen dus gerus maar alles wat God vir jou gesê het.”

17. Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim,

18. en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän.

19. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies.

20. Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie.

21. Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe.

22. Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het.

23. Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg.

24. Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!”

25. Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan.

26. Hy het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is.

27. Waarom het jy in die geheim gevlug? Jy het my bedrieg en my niks vertel nie. Ek sou jou laat vertrek het met 'n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere.

28. Jy het my nie eens toegelaat om my kleinkinders en my dogters te groet nie. Jy het 'n ongehoorde ding gedoen.

29. Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van jou voorvaders het verlede nag vir my gesê: ‘Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê.’

30. Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 31