Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 27:4-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Kom maak dit dan vir my lekker gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my dat ek dit kan eet en jou kan seën voor ek sterf.”

5. Rebekka het gehoor wat Isak met sy seun Esau praat en toe Esau veld toe is om te gaan jag,

6. het sy met haar seun Jakob gepraat en vir hom gesê: “Luister, ek het gehoor jou pa praat met jou broer Esau. Hy het vir hom gesê:

7. ‘Gaan haal vir my 'n stukkie wild en maak dit vir my lekker gaar dat ek dit kan eet en ek jou dan in die teenwoordigheid van die Here kan seën voor ek sterf.’

8. Nou moet jy na my luister, my seun, en doen wat ek jou sê.

9. Gaan na die kleinvee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan sal ek hulle lekker gaarmaak soos jou pa daarvan hou.

10. Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf.”

11. Toe sê Jakob vir sy ma Rebekka: “Maar my broer Esau is harig en ek is glad.

12. Miskien sal Pa aan my voel en dan dink ek skeer die gek met hom, en so sal ek 'n vervloeking oor my bring en nie 'n seën nie.”

13. Sy ma het vir hom gesê: “As daar 'n vervloeking is, sal dit oor my kom, my seun. Luister jy net na my en loop vang die bokkies vir my.”

14. Hy het die bokkies gaan vang en vir sy ma gebring, en sy het hulle lekker voorberei soos sy pa daarvan hou.

15. Toe vat Rebekka haar oudste seun Esau se beste klere wat sy by haar in die huis gehad het en trek dit vir haar jongste seun Jakob aan.

16. Sy het die bokvelletjies om sy hande en om sy kaal nek vasgemaak

17. en die lekkerny en die kos wat sy voorberei het, vir Jakob gegee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 27