Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 22:7-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8. Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”Daarna het hulle twee saam verder gestap.

9. Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.

10. Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag,

11. roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:“Abraham, Abraham!”Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12. Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13. Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer.

14. Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

15. Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep

16-17. en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem.

18. In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

19. Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.

20. 'n Rukkie na hierdie gebeurtenis is aan Abraham vertel dat Milka, sy broer Nahor se vrou, kinders vir sy broer in die wêreld gebring het.

21. Hulle was: Us die oudste, sy broer Bus, Kemuel die voorvader van die Arameërs,

22. en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.

23. Betuel was die pa van Rebekka. Milka het hierdie ag seuns in die wêreld gebring vir Abraham se broer Nahor.

24. Nahor het 'n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.

Lees volledige hoofstuk Genesis 22