Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 22:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. 'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

2. God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

3. Vroeg die volgende môre het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het.

4. Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien.

5. Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”

6. Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop,

7. sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8. Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”Daarna het hulle twee saam verder gestap.

9. Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.

10. Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag,

11. roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:“Abraham, Abraham!”Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12. Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 22