Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 2:7-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.

8. Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon.

9. Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

10. Daar het 'n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword.

11. Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is.

12. Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks.

13. Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus.

14. Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

15. Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.

16. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil,

17. maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 2