Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:24-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra.

25. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei.

26. Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander.

27. Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.

28. Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit 'n steenoond is.

29. Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het.

30. Lot het toe van Soar af weggegaan en met sy twee dogters in die berge gaan bly. Hy was bang om in Soar te bly en het toe met sy twee dogters in 'n grot gaan woon.

31. Die oudste dogter het vir die jongste gesê: “Pa is oud. Hier rond sal ons nie op die gebruiklike manier mans kry nie.

32. Kom ons maak vir Pa dronk en dan slaap ons by hom sodat ons by hom kinders kan hê.”

33. Daardie nag het hulle hom dronk gemaak, en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie besef dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie.

34. Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: “Ek het verlede nag by hom geslaap. Kom ons maak hom vannag weer dronk en dan gaan slaap jy by hom sodat ons elkeen 'n kind by hom kan hê.”

35. Hulle het hom toe daardie nag weer dronk gemaak, en die jongste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie agtergekom dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie.

36. So het die twee dogters van Lot by hulle pa swanger geword.

37. Die oudste het 'n seun in die wêreld gebring en hom Moab genoem. Hy is die voorvader van die Moabiete.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19