Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 12:8-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Van daar af het Abram verder getrek na die bergwêreld toe, oos van Bet-El, waar hy tent opgeslaan het met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou en die Naam van die Here aangeroep.

9. Toe het Abram kamp opgebreek en al gaande na die Suidland toe versit.

10. Daar was hongersnood in die land, 'n baie swaar hongersnood, en Abram het na Egipte toe getrek om daar 'n heenkome te vind.

11. Toe hy op die punt staan om Egipte binne te gaan, sê hy vir sy vrou Sarai: “Ek weet jy is 'n mooi vrou.

12. Wanneer die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: ‘Dis sy vrou,’ en hulle sal my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat bly lewe.

13. Sê tog maar jy is my suster dat dit met my goed kan gaan oor jou, en my lewe deur jou toedoen gespaar word.”

14. Toe Abram in Egipte aankom, het die Egiptenaars gesien hoe mooi sy vrou is.

15. En toe die farao se amptenare haar sien, het hulle haar by hom aanbeveel, en sy is na die farao se paleis toe gevat.

16. Hulle het aan Abram goed gedoen oor haar en vir hom kleinvee en beeste gegee; ook donkies, slawe en slavinne, donkiemerries en kamele.

17. Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram.

18. Toe roep die farao vir Abram en vra hom: “Wat het jy my aangedoen? Waarom het jy my nie gesê sy is jou vrou nie?

19. Waarom het jy gesê sy is jou suster, sodat ek haar as my vrou gevat het? Hier is jou vrou dan. Vat haar en maak dat jy wegkom!”

20. Toe het die farao aan sy amptenare bevele oor Abram uitgereik, en hulle het hom en sy vrou met al sy besittings uit die land uit gestuur.

Lees volledige hoofstuk Genesis 12