Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 2:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Later, toe die woede van koning Ahasveros bedaar het, het hy nog altyd aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is.

2. Toe sê die amptenare wat in die koning se persoonlike diens was: “Die koning moet vir hom mooi meisies laat soek.

3. Hy moet amptenare aanstel in al die provinsies van sy koninkryk sodat hulle al die mooi meisies bymekaar kan laat kom in die vestingstad Susan in die vrouekwartiere onder die sorg van Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig hou. Hulle moet skoonheidsbehandeling ontvang,

4. en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet in die plek van Vasti koningin word.”Die koning het dit 'n goeie voorstel gevind en so gemaak.

5. In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis.

6. Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel.

7. Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem.

8. Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het.

9. Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif.

10. Ester het nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar belet om dit te doen.

11. Mordegai het elke dag voor die voorhof van die vrouekwartiere heen en weer geloop om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gaan gebeur.

12. Die skoonheidsbehandeling waaraan die meisies hulle volgens die gebruik moes onderwerp, het twaalf maande lank geduur: behandeling met mirre-olie ses maande, en met lekkerruik-kruie en ander skoonheidsmiddels ses maande. Daarna het elke meisie 'n beurt gekry om na koning Ahasveros toe te gaan.

13. Wanneer sy uit die vrouekwartiere na die koning se paleis toe gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou.

Lees volledige hoofstuk Ester 2