Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 8:23-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor.

24. Daarna het ek twaalf van die priesters se leiers uitgesoek, Serebja en Gasabja en tien van hulle ampsgenote saam met hulle,

25. en toe die silwer en die goud en die tempelgereedskap volgens gewig onder hulle verdeel. Dit was die wydingsgeskenke vir die tempel van ons God wat geskenk is deur die koning en sy adviseurs en amptenare en deur al die Israeliete wat hulle nog in ballingskap bevind het.

26. Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud,

27. twintig komme van goud met 'n gesamentlike gewig van ag en 'n half kilogram, en twee stukke van fyn gepoleerde brons, so kosbaar soos goud.

28. Daarna het ek vir die twaalf priesters gesê: “Julle is aan die Here gewy, hierdie goed is ook aan Hom gewy. Die silwer en die goud is vrywillige gawes aan die Here die God van julle voorvaders.

29. Wees wakker, pas dit op totdat julle dit uitweeg voor die hoofde van die priesters en die Leviete en voor die familiehoofde van Israel in Jerusalem binne in die tempelvertrekke.”

30. Die priesters en die Leviete het toe die silwer, die goud en die tempelgereedskap wat afgeweeg is, in ontvangs geneem om dit na Jerusalem toe te vat, na die tempel van ons God toe.

31. Ons het van die Ahawarivier af vertrek op die twaalfde van die eerste maand, op pad Jerusalem toe. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande en rowers langs die pad nie.

32. Ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gerus.

33. Die vierde dag het ons die silwer en die goud en die tempelgereedskap gaan weeg in die tempel van ons God en dit aan die priester Meremot seun van Urija oorhandig in die teenwoordigheid van Eleasar seun van Pinehas. Die Leviete Josabad seun van Jesua, en Noadja seun van Binnuï was by hulle.

34. Alles was daar en die gewig was reg, en die gewig is dié dag noukeurig opgeskryf.

35. Die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het toe aan die God van Israel brandoffers gebring: twaalf bulle vir die hele Israel, ses en negentig ramme, sewe en sewentig lammers en twaalf bokke as 'n sondeoffer. Alles was brandoffers aan die Here.

36. Die opdragte van die koning is aan die gevolmagtigde verteenwoordigers van die koning en aan die goewerneurs van Wes-Eufraat oorhandig, en hulle het van toe af bystand verleen aan die volk en aan die tempel.

Lees volledige hoofstuk Esra 8