Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 8:15-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Ek het hulle laat bymekaarkom by die rivier wat by Ahawa verby loop. Ons het daar drie dae gekampeer, en ek het vasgestel dat daar priesters onder die mense was, maar ek kon geen Leviete vind nie.

16. Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep, almal leiers, en ook vir Jojarib en Elnatan, twee verstandige manne.

17. Ek het hulle na Iddo, die leier in Kasifja, toe gestuur, en hulle gesê wat om vir Iddo en sy ampsgenote en vir die tempelslawe in Kasifja te sê sodat Iddo-hulle mense vir ons kon stuur wat in die tempel van ons God kon diens doen.

18. Deur die goeie beskikking van ons God het hulle toe ook vir ons 'n verstandige man gestuur uit die nageslag van Magli seun van Levi, seun van Israel. Dit was Serebja, met sy seuns en sy ampsgenote, agtien altesaam.

19. Verder het hulle ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die nageslag van Merari, met sy ampsgenote en hulle seuns, twintig altesaam.

20. Van die tempelslawe wat nog deur Dawid en sy amptenare geskenk is om die Leviete van diens te wees, het daar twee honderd en twintig man gekom. Almal se name is opgeteken.

21. Ek het daar by die Ahawarivier 'n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om 'n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het.

22. Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat.

23. Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor.

24. Daarna het ek twaalf van die priesters se leiers uitgesoek, Serebja en Gasabja en tien van hulle ampsgenote saam met hulle,

25. en toe die silwer en die goud en die tempelgereedskap volgens gewig onder hulle verdeel. Dit was die wydingsgeskenke vir die tempel van ons God wat geskenk is deur die koning en sy adviseurs en amptenare en deur al die Israeliete wat hulle nog in ballingskap bevind het.

26. Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud,

27. twintig komme van goud met 'n gesamentlike gewig van ag en 'n half kilogram, en twee stukke van fyn gepoleerde brons, so kosbaar soos goud.

Lees volledige hoofstuk Esra 8