Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 7:12-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “Artasasta, koning oor ander konings, aan die priester Esra, die skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel.

13. “Ek gee hiermee opdrag dat enigiemand in my ryk wat tot die volk Israel, sy priesters of sy Leviete behoort en wat wil gaan, met jou saam na Jerusalem toe kan gaan.

14. Jy word deur die koning en sy sewe adviseurs afgevaardig om aan die hand van die wet van jou God waarin jy onderleg is, vas te stel hoe sake in Juda en Jerusalem staan.

15. Jy moet ook die silwer en die goud wegbring wat die koning en sy adviseurs as 'n vrywillige gawe gee aan die God van Israel wat sy woning in Jerusalem het.

16. Verder moet jy al die silwer en die goud saamneem wat jy dwarsoor die provinsie Babel kan bekom, en ook die vrywillige gawes wat die volk en die priesters vir die tempel van hulle God in Jerusalem gee.

17. Van dié geld moet jy met oorleg gebruik om bulle, ramme en lammers te koop, met die bybehorende graan- en drankoffers, en dan moet jy dit op die altaar van die tempel van julle God in Jerusalem offer.

18. Die silwer en die goud wat oorbly, moet jy gebruik soos jy en jou ampsgenote dit goedvind volgens die wil van julle God.

19. Die goed wat vir gebruik in die tempel van jou God bestem en aan jou oorhandig is, moet jy as geskenk aan God in Jerusalem gaan gee.

20. Enigiets anders wat vir die tempel van jou God nodig mag wees, en wat jy moet voorsien, mag jy uit die koninklike skatkis vat.

21. “Ek, koning Artasasta, beveel al die beamptes in beheer van die skatkis in Wes-Eufraat: Alles wat die priester Esra, skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle vra, moet julle dadelik lewer,

22. tot soveel as drie en 'n half ton silwer, sestien en 'n half ton koring, twee duisend twee honderd liter wyn, net soveel olie, en soveel sout as wat nodig is.

23. Wat die God van die hemel ook al vir sy tempel vereis, moet met toewyding gedoen word, sodat sy toorn nie oor die ryk van die koning en sy seuns kom nie.

Lees volledige hoofstuk Esra 7