Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 7:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dit was ná hierdie gebeurtenisse en in die regeringstyd van koning Artasasta van Persië dat Esra op die toneel gekom het. Hy was 'n seun van Seraja, en sy afstamming is teruggevoer oor Asarja, Gilkija,

2. Sallum, Sadok, Agitub,

3. Amarja, Asarja, Merajot,

4. Seragja, Ussi, Bukki,

5. Abisua, Pinehas en Eleasar tot by die hoëpriester Aäron.

6. Hierdie Esra het uit Babel gekom en hy was 'n geleerde man, kundig in die wet van Moses wat deur die Here die God van Israel gegee is. Omdat die Here sy hand oor Esra gehou het, het die koning hom alles gegee wat hy van hom gevra het.

7. In die sewende regeringsjaar van koning Artasasta het Esra en 'n aantal Israeliete, priesters, Leviete, tempelsangers, poortwagte en tempelslawe na Jerusalem toe teruggegaan.

8. Esra het in Jerusalem aangekom in die vyfde maand, in die sewende regeringsjaar van die koning.

9. Die vertrek uit Babel was vasgestel vir die eerste van die eerste maand, en op die eerste van die vyfde maand het Esra in Jerusalem aangekom. Sy God het hom beskerm.

10. Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer.

Lees volledige hoofstuk Esra 7