Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 6:7-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Laat die werk aan daardie tempel ongehinderd voortgaan. Laat die goewerneur van die Judeërs en hulle leiers die tempel bou waar hy moet wees.

8. Ek gee hiermee ook opdrag wat julle moet doen om daardie Judese leiers te help met die bou van die tempel: Sonder versuim en nougeset moet die koste aan daardie manne uitbetaal word uit die koninklike fondse, die belasting van Wes-Eufraat.

9. Wat ook al nodig is volgens die priesters in Jerusalem, moet aan hulle gegee word: jong bulle, ramme en lammers vir die offers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie. Dit moet elke dag gedoen word, sonder om oor te slaan,

10. sodat hulle vir die God van die hemel offers kan bring wat vir Hom aanneemlik is en kan bid dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word.

11. Ek beveel verder dat enigiemand wat hierdie opdrag oortree, deurboor sal word met 'n balk wat uit sy eie huis geruk is, en dat sy huis afgebreek moet word.

12. Mag die God wat sy Naam op daardie plek laat woon, elke koning en elke volk tot 'n val bring wat hierdie bevel oortree of 'n hand lig om daardie tempel in Jerusalem te beskadig. Ek, Darius, het opdrag gegee. Dit moet presies so uitgevoer word!”

13. Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote het toe gedoen presies wat koning Darius hulle beveel het.

14. Die Judese leiers het met die bouwerk aangegaan. Danksy die optrede van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het hulle goed gevorder. So kon hulle die gebou klaar maak soos die God van Israel hulle dit opgedra het en soos konings Kores, Darius en Artasasta van Persië beveel het.

15. Die tempel is voltooi op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar van die regering van koning Darius.

Lees volledige hoofstuk Esra 6