Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 6:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In opdrag van koning Darius is daar toe ondersoek gedoen in die argiewe in Babel waar die dokumente gebêre word,

2. en in Agmeta die hoofstad van die provinsie Medië is daar so 'n geskrif gevind. Daarin het gestaan:“Proklamasie:

3. “In sy eerste regeringsjaar het koning Kores 'n bevel uitgevaardig in verband met die tempel in Jerusalem. Die tempel moet herbou word as 'n plek waar offers gebring word. Die fondamente moet versterk word en die gebou moet dertig meter hoog en dertig meter breed wees,

4. met telkens drie lae gekapte klip en een laag hout. Die koste moet gedra word deur die koninklike skatkis.

5. Die goue en die silwergoed wat aan die tempel behoort en wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem verwyder en na Babel toe gebring het, moet teruggegee word. Dit moet teruggevat word na die tempel toe in Jerusalem waar dit hoort en daar in die tempel gesit word.”

6. Koning Darius het toe soos volg laat skryf:“Aan goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat.“Julle moet daar wegbly.

7. Laat die werk aan daardie tempel ongehinderd voortgaan. Laat die goewerneur van die Judeërs en hulle leiers die tempel bou waar hy moet wees.

8. Ek gee hiermee ook opdrag wat julle moet doen om daardie Judese leiers te help met die bou van die tempel: Sonder versuim en nougeset moet die koste aan daardie manne uitbetaal word uit die koninklike fondse, die belasting van Wes-Eufraat.

9. Wat ook al nodig is volgens die priesters in Jerusalem, moet aan hulle gegee word: jong bulle, ramme en lammers vir die offers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie. Dit moet elke dag gedoen word, sonder om oor te slaan,

10. sodat hulle vir die God van die hemel offers kan bring wat vir Hom aanneemlik is en kan bid dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word.

11. Ek beveel verder dat enigiemand wat hierdie opdrag oortree, deurboor sal word met 'n balk wat uit sy eie huis geruk is, en dat sy huis afgebreek moet word.

12. Mag die God wat sy Naam op daardie plek laat woon, elke koning en elke volk tot 'n val bring wat hierdie bevel oortree of 'n hand lig om daardie tempel in Jerusalem te beskadig. Ek, Darius, het opdrag gegee. Dit moet presies so uitgevoer word!”

13. Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote het toe gedoen presies wat koning Darius hulle beveel het.

14. Die Judese leiers het met die bouwerk aangegaan. Danksy die optrede van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het hulle goed gevorder. So kon hulle die gebou klaar maak soos die God van Israel hulle dit opgedra het en soos konings Kores, Darius en Artasasta van Persië beveel het.

Lees volledige hoofstuk Esra 6