Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 5:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In dié tyd het twee profete opgetree, Haggai en Sagaria seun van Iddo. Hulle het die Judeërs in Juda en Jerusalem aangespreek in die Naam van die God van Israel.

2. Daarna het Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak weer begin bou aan die tempel in Jerusalem. Die profete van God het hulle bygestaan en hulle ondersteun.

3. Toe het goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle bondgenote na die Judeërs toe gekom en vir hulle gevra: “Van wie het julle opdrag gekry om dié tempel te herbou en sy timmerasie op te sit?”

4. Verder wou hulle weet: “Wat is die name van die manne wat dié gebou herstel?”

5. Maar God het 'n oog gehou oor die Judese leiers, en die werk is toegelaat om aan te gaan tot tyd en wyl daar aan Darius verslag gedoen is en daar van hom 'n beslissing oor die saak ontvang is.

6. Hier volg nou 'n afskrif van die brief wat goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat, aan koning Darius gestuur het.

7. Hulle het aan hom verslag gedoen en soos volg geskryf:“Aan koning Darius. Alle voorspoed!

8. “Ons bring tot die koning se kennis dat ons na die provinsie Juda toe gegaan het en daar by 'n groot tempel uitgekom het. Dit word gebou van gekapte klip en die balke word al op die mure gelê. Die werk word met ywer gedoen en vorder vinnig.

9. Ons het toe by die mense wat die leiding neem, navraag gedoen. Ons het vir hulle gesê: ‘Van wie het julle opdrag gekry om dié tempel te bou en sy timmerasie op te sit?’

10. Ons het ook hulle name gevra om vir u inligting op skrif te stel watter manne hulle leiers is.

11. “Hulle het ons soos volg geantwoord: Ons is dienaars van die God van die hemel en die aarde. Ons is besig om die tempel te herbou wat vroeër baie jare hier gestaan het. Dit is deur 'n groot koning van Israel opgerig en voltooi.

Lees volledige hoofstuk Esra 5