Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Die skrywe was in die naam van die hoofamptenaar Regum, die sekretaris Simsai en die res van hulle bondgenote, die regters, die goewerneurs, die amptenare uit Persië, Erek, Babel en Susan, dit is Elam,

10. en die mense van die ander volke wat deur die groot en beroemde Asenappar weggevoer is en gevestig is in die stede van Samaria en in die res van Wes-Eufraat.

11. Hier is 'n afskrif van die brief wat hulle aan die koning gestuur het:“Aan koning Artasasta.“Van u onderdane, die mense van Wes-Eufraat.

12. “Ons bring tot die koning se kennis dat die Judeërs wat daar van u af na ons toe getrek het, nouliks in Jerusalem aangekom het of hulle het begin om dié rebelse, slegte stad te herbou. Hulle is besig om die mure op te bou. Die fondamente is klaar gelê.

13. Nou moet die koning daarvan kennis neem dat as hierdie stad herbou en sy mure herstel is, hulle nie belasting, heffing of tol sal betaal nie. Die koning sal skade ly aan inkomste.

14. Ons het 'n plig teenoor die paleis en dit pas ons nie om toe te sien dat die koning in sy eer aangetas word nie. Daarom laat ons die koning weet

15. dat as u in die annale van u voorgangers laat soek, u daar sal vind dat hierdie stad 'n rebelse stad was wat konings en provinsiale owerhede skade laat ly het. Van ouds af is daar revolusie gestook. Dit is waarom die stad verwoes is.

16. Ons bring tot die koning se kennis dat as dié stad herbou en sy mure herstel word, daar vir u in Wes-Eufraat niks sal oorbly nie.”

17. Die koning het soos volg geantwoord:“Aan die hoofamptenaar Regum, die sekretaris Simsai en hulle bondgenote wat in Samaria en die res van Wes-Eufraat woon: Voorspoed!

18. “Die skrywe wat julle aan ons gestuur het, is vertaal en aan my voorgelees.

19. Op my bevel is daar ondersoek gedoen en gevind dat daardie stad van ouds af teen konings in opstand was. Daar is voortdurend rebellie en revolusie gestook.

20. Magtige konings het oor Jerusalem geregeer en gesag uitgeoefen oor die hele Wes-Eufraat. Daar is belasting, heffing en tol aan hulle betaal.

21. Gee dus opdrag dat daardie manne gekeer word. Daardie stad mag nie herbou word voor ek opdrag gee nie.

Lees volledige hoofstuk Esra 4