Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hulle het selfs amptenare omgekoop om die bouplanne in die wiele te ry. Dit het aangehou van die tyd van koning Kores van Persië af tot die regeringstyd van koning Darius van Persië.

6. Aan die begin van die regering van Ahasveros het hulle selfs 'n geskrewe klag teen die inwoners van Juda en Jerusalem ingedien.

7. In die regeringstyd van koning Artasasta van Persië het Bislam saam met Mitredat, Tabeël en sy ander bondgenote 'n brief aan die koning geskrywe. Die dokument was in die Aramese skrif en in die Aramese taal.

8. Later het die hoofamptenaar Regum en die sekretaris Simsai 'n skrywe teen Jerusalem aan koning Artasasta gerig.

9. Die skrywe was in die naam van die hoofamptenaar Regum, die sekretaris Simsai en die res van hulle bondgenote, die regters, die goewerneurs, die amptenare uit Persië, Erek, Babel en Susan, dit is Elam,

10. en die mense van die ander volke wat deur die groot en beroemde Asenappar weggevoer is en gevestig is in die stede van Samaria en in die res van Wes-Eufraat.

11. Hier is 'n afskrif van die brief wat hulle aan die koning gestuur het:“Aan koning Artasasta.“Van u onderdane, die mense van Wes-Eufraat.

12. “Ons bring tot die koning se kennis dat die Judeërs wat daar van u af na ons toe getrek het, nouliks in Jerusalem aangekom het of hulle het begin om dié rebelse, slegte stad te herbou. Hulle is besig om die mure op te bou. Die fondamente is klaar gelê.

13. Nou moet die koning daarvan kennis neem dat as hierdie stad herbou en sy mure herstel is, hulle nie belasting, heffing of tol sal betaal nie. Die koning sal skade ly aan inkomste.

14. Ons het 'n plig teenoor die paleis en dit pas ons nie om toe te sien dat die koning in sy eer aangetas word nie. Daarom laat ons die koning weet

15. dat as u in die annale van u voorgangers laat soek, u daar sal vind dat hierdie stad 'n rebelse stad was wat konings en provinsiale owerhede skade laat ly het. Van ouds af is daar revolusie gestook. Dit is waarom die stad verwoes is.

16. Ons bring tot die koning se kennis dat as dié stad herbou en sy mure herstel word, daar vir u in Wes-Eufraat niks sal oorbly nie.”

Lees volledige hoofstuk Esra 4