Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 8:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en 'n geurige wierookwolk het opgestyg.

12. God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.”

13. Toe sê die Here vir my: “Jy sal nog afskuweliker dinge sien wat hulle doen,”

14. en Hy bring my by die ingang van die poort noord van die huis van die Here. Daar het vrouens gesit en huil oor Tammus.

15. Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Maar jy sal nog afskuweliker dinge as hierdie sien.”

16. Hy bring my toe na die binneste voorhof van die huis van die Here toe. Daar in die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was 'n stuk of vyf en twintig man met hulle rug na die tempel van die Here toe en hulle gesig na die ooste toe, en hulle was besig om in aanbidding voor die son neer te val na die ooste toe.

17. Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Was dit nie genoeg dat Juda dié afskuwelike dinge hier gedoen het nie? Hulle het boonop die hele land vol geweld gemaak, en dan kom tart hulle My nog met die druiweranke wat hulle voor hulle neuse rondswaai.

18. Ek gaan nou doen wat my gramskap eis, Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na My, Ek sal hulle nie hoor nie.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 8