Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 45:17-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Op die regeerder rus dan die verpligting om die brandoffers, die graanoffers en die drankoffers aan te bied tydens die groot feestye en die nuwemaansfeeste en op die sabbatte, op al die feestye van Israel. Hy moet die sondeoffer, die graanoffer, die brandoffer en die maaltydoffers aanbied om vir Israel versoening mee te doen.”

18. So sê die Here my God: “Op die eerste dag van die eerste maand moet jy 'n bul sonder liggaamsgebrek vat en die heiligdom laat reinig:

19. die priester moet van die sondeofferdier se bloed vat en dit aan die kosyne in die tempel smeer en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en aan die kosyne van die poorte na die binneste voorhof toe;

20. dit moet hy ook doen op die sewende van die maand ter wille van mense wat onwetend of uit onkunde gesondig het; so moet julle die tempel reinig.

21. “Op die veertiende van die eerste maand moet julle die paasfees vier, wanneer julle moet begin om sewe dae lank net ongesuurde brood te eet.

22. Op die paasfees moet die regeerder 'n bul as sondeoffer aanbied vir homself en vir die hele volk.

23. Tydens die sewe dae wat die fees duur, moet hy elke dag as brandoffer vir die Here sewe bulle en sewe skaapramme aanbied, almal sonder liggaamsgebrek, en ook nog elke dag 'n bokram as sondeoffer.

24. Verder moet hy as graanoffer by elke bul en elke ram sestien kilogram meel aanbied, en vier liter olie by elke sestien kilogram meel.

25. “Tydens die fees wat op die vyftiende van die sewende maand begin, moet die regeerder sewe dae lank net soos met die paasfees ook die sondeoffer, die brandoffer, die graanoffer en die olie aanbied.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 45