Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 45:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Wanneer julle die land deur loting verdeel om aan elke stam sy besitting toe te ken, moet julle 'n stuk grond van twaalf en 'n half kilometer lank en tien kilometer breed as 'n offergawe aan die Here gee. Die hele stuk grond sal aan die Here gewy wees.

2. Hiervan moet 'n stuk van twee honderd en vyftig meter in die vierkant aan die heiligdom behoort, met 'n oop strook van vyf en twintig meter rondom.

3. Van die hele gebied wat afgemeet is, moet julle 'n stuk afmeet van twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed; daarop moet die heiligdom met die Allerheiligste staan.

4. Hierdie gebied is die gewyde gebied in die land. Dit is tot beskikking van die priesters wat in die heiligdom diens doen en wat by die altaar mag kom om die diens aan die Here te verrig. Daar kan hulle huise kom, en die grond wat aan die heiligdom behoort, val in dié gedeelte.

5. Die oorblywende gedeelte van twaalf en 'n half kilometer lank en vyf kilometer breed is vir die Leviete wat in die tempel diens doen; dit is hulle eiendom, daar kan hulle woon.

6. “Vir die stadsgrond moet julle 'n stuk afstaan van twee en 'n half kilometer breed en twaalf en 'n half kilometer lank, net so groot as die gewyde gebied. Hierdie grond moet tot beskikking wees van die hele Israel.

7. “Die regeerder moet grond kry weerskante van die gewyde gebied en die stadsgrond, wes en oos daarvan; dit moet net so groot wees as een van die stamgebiede en moet strek van die wesgrens van Israel af tot aan die oosgrens.

8. Dit moet sy deel van die land wees tussen die Israeliete. Die regeerders wat Ek aanwys, sal my volk nie weer te kort doen nie; hulle sal die land verdeel tussen die stamme van Israel.”

9. So sê die Here my God: “Julle het nou ver genoeg gegaan, regeerders van Israel. Laat staan die geweld en verdrukking, laat reg geskied en doen reg, hou op om my volk se eiendom vir julle te vat,” sê die Here my God.

10. “Julle moet skale gebruik wat reg weeg en julle moet die regte inhoudsmate vir droë stowwe en vir vloeistowwe gebruik.

11. Inhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens 'n vaste maatstaf.

12. Gewig moet volgens 'n vaste maatstaf bepaal word.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 45