Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 44:13-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. “Hulle mag nie in my teenwoordigheid kom om priesters te wees in my diens nie, hulle mag nie raak aan die dinge wat aan My gewy is of aan die gewyde offergawes nie. Hulle moet die straf dra vir hulle skandelike afskuwelike optrede.

14. Ek maak hulle die tempelbediendes wat moet sorg vir al die werk aan die tempel, alles wat daar aan die tempel gedoen moet word.

15. “Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het die dienswerk in my heiligdom onderhou toe die Israeliete My verlaat het. Hierdie priesters mag in my teenwoordigheid kom en die dienswerk vir My verrig, hulle mag in my diens staan en vir My vet en bloed as offer aanbied,” sê die Here my God.

16. “Hulle mag in my heiligdom kom, hulle mag na my altaar toe kom en My daar dien, die diens tot my eer daar verrig.

17. “Maar wanneer hulle by enige van die poorte van die binneste voorhof kom, moet hulle linneklere aantrek. Hulle mag nie die binneste voorhof en die tempel binnegaan met iets van wol aan hulle nie.

18. Hulle moet linnemusse op die kop hê en hulle moet linnebroeke aanhê. Hulle moet niks aanhê wat hulle laat sweet nie.

19. Wanneer hulle uitgaan na die buitenste voorhof toe, na die volk toe, moet hulle die klere waarin hulle diens gedoen het, uittrek en dit neersit in die gewyde vertrekke en ander klere aantrek. Dit moet hulle doen sodat hulle nie die volk in gevaar stel met die gewyde klere nie.

20. “Priesters mag nie hulle kop kaalskeer nie, maar hulle mag ook nie lang hare hê nie; hulle moet hulle hare netjies sny.

21. “Geen priester mag wyn drink wanneer hy in die binneste voorhof moet ingaan nie.

22. “Hulle mag ook nie trou met weduwees of geskeide vrouens nie, hulle mag net trou met Israelitiese jongmeisies of met jong weduwees van priesters.

23. “Die priesters moet my volk onderrig oor die onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie en hulle leer om te onderskei tussen wat rein en wat onrein is.

24. “Waar daar geskille is, moet die priesters as regters optree en uitspraak lewer ooreenkomstig my bepalings.“Hulle moet toesien dat my wil en my voorskrifte op al die feesdae in ag geneem word en dat my sabbatte heilig gehou word.

25. “Hulle mag nie onrein word deur naby 'n lyk te kom nie. Net in die geval van ouers of kinders of broers of ongetroude susters mag 'n priester onrein word,

26. en dan moet hy ná sy reiniging sewe dae laat verloop

27. en op die dag wanneer hy weer in die heiligdom, in die binneste voorhof ingaan om die dienswerk in die heiligdom te doen, moet hy 'n sondeoffer bring,” sê die Here my God.

28. “As eiendom ontvang die priesters van wat My toekom. Hulle kry nie 'n besitting tussen die Israeliete nie, want hulle besitting is wat Ek vir hulle gee uit wat Myne is.

29. Hulle mag die graanoffer, die sondeoffer en die skuldoffer eet, en hulle kry alles wat in Israel aan My gewy word;

30. verder kom aan die priesters toe die beste van al die eerstelingoffers, al die offergawes wat deur die volk gebring word; die Israeliete moet ook die beste van alles wat hulle bak, vir die priesters gee, dan sal die Here die huis waaruit dit kom, seën.

31. “Priesters mag nie voëls of diere wat gevrek het of deur roofdiere gevang is, eet nie.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 44