Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:15-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Ek het by die ballinge in Tel-Abib aangekom. Hulle het daar in die omgewing van die Kebarrivier gewoon, en ek het sewe dae lank verskrik daar tussen hulle gesit.

16. Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom:

17. “Mens, Ek het jou aangestel as 'n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku.

18. “Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.

19. As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou.

20. “En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot 'n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.

21. As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.”

22. Die mag van die Here het my daar in besit geneem. Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe, Ek sal daar met jou praat.”

23. Ek is toe na die vallei toe. Die magtige verskyning van die Here het daar gestaan, net soos ek Hom aan die Kebarrivier gesien het. Ek het platgeval,

24. maar die Gees het in my gekom en my regop laat staan. Die Here het met my gepraat, Hy het vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis.

25. Mens, jy sal vasgebind word met toue, sodat jy nie tussen die mense kan kom nie.

26. Ek laat jou tong aan jou verhemelte vassit, sodat jy nie kan praat nie en hulle nie kan bestraf nie, al is hulle 'n weerbarstige volk.

27. Maar wanneer Ek jou die opdrag gee en jou tong losmaak, moet jy vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê. Laat dan luister wie wil en laat skouers optrek wie wil: hulle is 'n weerbarstige volk.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3