Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:10-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Hy het verder vir my gesê: “Mens, onthou alles wat Ek vir jou sê, luister goed daarna

11. en gaan na die ballinge toe, na jou volksgenote toe; spreek hulle aan, sê vir hulle wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie.”

12. Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my die gedreun van 'n groot aardbewing en 'n stem: “Die hemel self moet die magtige verskyning van die Here loof!”

13. Daar was die geruis van die wesens se vlerke wat aan mekaar geraak het, die gedreun van die wiele daarmee saam en die gedreun van die groot aardbewing.

14. Die Gees het my opgetel en my weggevat, en ek is daar weg, swaarmoedig en ontsteld. Die mag van die Here het my op 'n harde manier in besit geneem.

15. Ek het by die ballinge in Tel-Abib aangekom. Hulle het daar in die omgewing van die Kebarrivier gewoon, en ek het sewe dae lank verskrik daar tussen hulle gesit.

16. Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom:

17. “Mens, Ek het jou aangestel as 'n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku.

18. “Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.

19. As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou.

20. “En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot 'n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.

21. As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.”

22. Die mag van die Here het my daar in besit geneem. Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe, Ek sal daar met jou praat.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3