Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die stem het vir my gesê: “Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.”

2. Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet.

3. Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.”Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond.

4. Toe sê Hy vir my: “Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê.

5. Jy word nie gestuur na 'n volk wat 'n onverstaanbare, moeilike taal praat nie, maar na die mense van Israel toe,

6. ook nie na baie volke toe met onverstaanbare, moeilike tale sodat jy nie kan verstaan wat hulle praat nie. Het Ek jou maar na hulle toe gestuur! Hulle sou na jou geluister het.

7. Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik.

8. Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard as hulle s'n.

9. Soos diamant, harder as rots, so maak Ek jou kop. Moenie vir hulle bang wees, vir hulle skrik nie. Hulle is 'n weerbarstige volk.”

10. Hy het verder vir my gesê: “Mens, onthou alles wat Ek vir jou sê, luister goed daarna

11. en gaan na die ballinge toe, na jou volksgenote toe; spreek hulle aan, sê vir hulle wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie.”

12. Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my die gedreun van 'n groot aardbewing en 'n stem: “Die hemel self moet die magtige verskyning van die Here loof!”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3