Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 23:2-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. “Mens, daar was twee vrouens, dogters van dieselfde ma.

3. Hulle was al onsedelik in Egipte, toe hulle jonk was. Dáár is hulle borste al betas, dáár, toe hulle nog jongmeisies was, is daar al aan hulle borste gevat.

4. Die oudste se naam was Ohola, en haar suster was Oholiba. Hulle het aan My behoort en hulle het seuns en dogters gehad. Ohola se naam was eintlik Samaria en Oholiba s'n was Jerusalem.

5. Ohola was ontrou aan My en het gesmag na haar minnaars, die Assiriërs. Hulle was vegters,

6. goewerneurs en ampsdraers wat pers klere gedra het, almal uitgesoekte manne, ruiters te perd.

7. Sy het gewillig met hulle omgegaan, met al die beste Assiriërs. Sy het haar verontreinig met almal na wie sy gesmag het, met al hulle afgode.

8. Sy het haar onsedelikheid waarmee sy in Egipte begin het, nie laat vaar nie. Hulle het toe sy nog jonk was, by haar geslaap, aan haar borste gevat toe sy nog 'n jongmeisie was. Hulle het hulle luste laat botvier met haar.

9. Daarom het Ek haar oorgegee in die mag van haar minnaars, in die mag van die Assiriërs na wie sy gesmag het.

10. Hulle het haar klere uitgetrek, haar seuns en dogters weggevat en haar toe met die swaard doodgemaak. Die straf wat sy ondergaan het, het van haar 'n voorbeeld gemaak wat vrouens moes afskrik.

11. “Haar suster Oholiba het dit alles gesien. Maar haar wellus en haar onsedelikheid was nog erger as dié van haar suster.

12. Sy het gesmag na die Assiriërs, goewerneurs, ampsdraers, vegters met pragtige klere aan, ruiters te perd, almal uitgesoekte manne.

13. Ek het gesien hoe sy haar verontreinig. Die twee susters het dieselfde pad geloop.

14. Maar Oholiba het met haar onsedelikheid nog verder gegaan. Sy het mansfigure teen 'n muur afgeteken gesien, afbeeldings van Galdeërs, met 'n rooi kleurstof geteken;

15. hulle het lendedoeke om die heupe gehad en oorhangende tulbande op die koppe; almal het na offisiere gelyk en dit het gelyk of hulle Babiloniërs kon wees, afkomstig uit Galdeërland.

16. Toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag; sy het boodskappers na hulle toe in Galdeërland gestuur,

Lees volledige hoofstuk Esegiël 23