Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22:8-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Wat aan My gewy is, het jy geminag, my sabbatte het jy ontheilig.

9. Daar is mense in jou wat ander belaster om hulle dood te veroorsaak, wat aan die offermaaltye op die berge deelneem en wat afstootlike dinge in jou doen.

10. Daar is mense in jou wat by hulle pa's se vrouens slaap en wat vrouens onteer selfs terwyl hulle menstrueer en onrein is.

11. Die een begaan afskuwelike dinge met die ander se vrou, die een pleeg afstootlike dade met sy skoondogter en verontreinig haar, die een onteer sy halwe suster, sy pa se dogter.

12. Hulle laat hulle in jou omkoop om moord te pleeg, hulle vat rente en woekerwins, hulle pleeg bedrog en doen ander te kort: hulle maak of Ek nie daar is nie,” sê die Here my God.

13. “Ek slaan my hande saam oor die oneerlike wins wat jy maak en oor die bloed wat daar in jou vergiet is.

14. Sal jy nog selfversekerd wees wanneer jy jou sterk probeer maak vir die tyd wanneer Ek met jou handel? Ek, die Here, het gepraat, en Ek sal dit doen.

15. Ek sal jou versprei onder die nasies en jou uitmekaarjaag na ander lande toe, Ek gaan 'n end maak aan die onreinheid in jou.

16. Jy het jouself onrein gemaak in die oë van die ander nasies. Jy sal besef dat Ek die Here is.”

17. Die woord van die Here het tot my gekom:

18. “Mens, Israel het vir My soos metaal geword. Hulle almal is die koper, die tin, die yster, die lood binne-in die smeltoond, die metaal, die silwer.”

19. So sê die Here my God: “Omdat julle almal metaal geword het, gaan Ek julle in Jerusalem bymekaarbring.

20. Soos 'n mens silwer, koper, yster, lood en tin saam in 'n smeltoond gooi en die vuur aanblaas om die metaal te smelt, so gooi Ek julle in my toorn en my gramskap saam in die smeltoond om julle te smelt.

21. Ek maak julle bymekaar en blaas die vuur van my toorn aan teen julle om julle in Jerusalem te smelt.

22. Soos silwer in 'n oond gesmelt word, so word julle gesmelt in Jerusalem. Wanneer Ek my toorn oor julle laat losbreek, sal julle besef dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 22