Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22:22-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Soos silwer in 'n oond gesmelt word, so word julle gesmelt in Jerusalem. Wanneer Ek my toorn oor julle laat losbreek, sal julle besef dat Ek die Here is.”

23. Die woord van die Here het tot my gekom:

24. “Mens, sê vir die land: Jy is 'n land wat geen reën sal kry die dag as my toorn losbreek nie.

25. “Die regeerders in die land sweer saam en is soos brullende leeus op vangste uit. Hulle vreet mense op en vat die rykdom en kosbaarhede vir hulleself, hulle maak baie vrouens in die land weduwees.

26. Die priesters in die land doen my wet geweld aan en hulle ontwy wat aan My gewy is. Hulle maak nie onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie, en hulle ken nie die onderskeid tussen rein en onrein nie. Vir my sabbatte gee hulle niks om nie. So word Ek tussen hulle oneer aangedoen.

27. Die amptenare in die land is soos verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike wins.

28. Die profete in die land pleister alles toe: hulle sien gesigte wat nie daar is nie, verkondig leuens as waarsêery en sê: ‘So sê die Here my God,’ terwyl Ek niks gesê het nie.

29. Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie.

30. Ek het iemand tussen hulle gesoek wat 'n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.

31. Daarom laat Ek my toorn oor hulle losbreek en vernietig Ek hulle met die vuur van my gramskap. Ek laat hulle kry wat hulle verdien,” sê die Here my God.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 22