Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. “Mens, Israel het vir My soos metaal geword. Hulle almal is die koper, die tin, die yster, die lood binne-in die smeltoond, die metaal, die silwer.”

19. So sê die Here my God: “Omdat julle almal metaal geword het, gaan Ek julle in Jerusalem bymekaarbring.

20. Soos 'n mens silwer, koper, yster, lood en tin saam in 'n smeltoond gooi en die vuur aanblaas om die metaal te smelt, so gooi Ek julle in my toorn en my gramskap saam in die smeltoond om julle te smelt.

21. Ek maak julle bymekaar en blaas die vuur van my toorn aan teen julle om julle in Jerusalem te smelt.

22. Soos silwer in 'n oond gesmelt word, so word julle gesmelt in Jerusalem. Wanneer Ek my toorn oor julle laat losbreek, sal julle besef dat Ek die Here is.”

23. Die woord van die Here het tot my gekom:

24. “Mens, sê vir die land: Jy is 'n land wat geen reën sal kry die dag as my toorn losbreek nie.

25. “Die regeerders in die land sweer saam en is soos brullende leeus op vangste uit. Hulle vreet mense op en vat die rykdom en kosbaarhede vir hulleself, hulle maak baie vrouens in die land weduwees.

26. Die priesters in die land doen my wet geweld aan en hulle ontwy wat aan My gewy is. Hulle maak nie onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie, en hulle ken nie die onderskeid tussen rein en onrein nie. Vir my sabbatte gee hulle niks om nie. So word Ek tussen hulle oneer aangedoen.

27. Die amptenare in die land is soos verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike wins.

28. Die profete in die land pleister alles toe: hulle sien gesigte wat nie daar is nie, verkondig leuens as waarsêery en sê: ‘So sê die Here my God,’ terwyl Ek niks gesê het nie.

29. Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 22