Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:46-63 Afrikaans 1983 (AFR83)

46. Jou ouer suster is Samaria. Sy en haar dogters woon noord van jou. Jou suster wat jonger as jy is, is Sodom. Sy en haar dogters woon suid van jou.

47. Jy het nie net min of meer hulle voorbeeld gevolg en hulle afskuwelike dade nagedoen nie, jy was erger as hulle met alles wat jy gedoen het.

48. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “jou suster Sodom en haar dogters het nie gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie.

49. Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie.

50. Hulle was hooghartig en het voor my oë afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle laat verdwyn, soos jy gesien het.

51. Samaria het nie die helfte van die sondes gedoen wat jy gedoen het nie. Jy het baie meer afskuwelike dinge gedoen as hulle. Teenoor al die afskuwelike dinge wat jy gedoen het, lyk dit of jou susters 'n goeie lewe gelei het.

52. Dié skande moet jy ook nog dra, dat jy met jou sonde vir jou susters ingestaan het: jy het afskuweliker dinge as hulle gedoen en dit laat voorkom asof hulle in vergelyking met jou 'n goeie lewe gelei het. Jy moet nou die skande en skaamte dra dat jy aan jou susters die skyn van onskuld besorg het.

53. Ek gaan hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters en die lot van Samaria en haar dogters, en joune daarmee saam.

54. So sal jy jou skande dra en jou moet skaam oor wat jy alles gedoen het wat hulle bevoordeel het.

55. Dit sal met jou susters Sodom en Samaria en met hulle dogters weer gaan soos vroeër, net soos met jou en jou dogters.

56. Jy het jou mond vol gehad oor jou suster Sodom. Dit was die tyd toe jy nog vol verwaandheid was,

57. voordat dit bekend geword het hoe sleg jy is. Nou is dit die Arameërs en almal in hulle omgewing, en ook die Filistyne wat jou verag en jou van alle kante loop en spot.

58. Jy dra nou die straf op jou afstootlike, afskuwelike dade, sê die Here.”

59. So sê die Here my God: “Ek het met jou gemaak soos jy gemaak het. Jy het die eed waaraan jy gebind was, met minagting behandel en die verbond verbreek.

60. Maar Ek sal die verbond weer laat geld wat Ek met jou in jou jeug gesluit het en Ek sal dit altyd in stand hou.

61. Jy sal dink aan jou gedrag en jou skaam wanneer Ek jou susters vat, die een ouer as jy en die een jonger as jy, en hulle vir jou as dogters gee, al sal hulle nie deel in my verbond met jou nie.

62. Ek sal my verbond met jou in stand hou, en jy sal besef dat Ek die Here is.

63. Jy sal daaraan dink en jou skaam. Jy sal van skaamte nie weer jou mond oopmaak nie, want Ek gaan My met jou versoen ten spyte van alles wat jy gedoen het,” sê die Here my God.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16