Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 11:16-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Daarom moet jy sê: So sê die Here my God: Ek het hulle ver weg gevat na ander nasies toe en hulle oor ander lande verstrooi, maar in dié tyd het Ek self vir hulle 'n heiligdom gebly in die lande waarheen hulle is.

17. “Jy moet sê: So sê die Here my God: Ek gaan julle dan ook nou bymekaarmaak tussen die ander nasies uit, julle versamel uit die ander lande waarheen Ek julle verstrooi het, en vir julle die land Israel teruggee.

18. Hulle sal hierheen kom en al die walglike, afskuwelike goed uit die stad uit verwyder.

19. Ek sal hulle 'n ander hart gee en 'n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle 'n hart van vleis gee.

20. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.

21. Dié wat die walglike, afskuwelike dinge bly doen, se dade sal op hulle eie kop afkom.”Dit het die Here my God gesê.

22. Toe het die gerubs hulle vlerke gespan, en die wiele het saam met hulle beweeg. Die magtige teenwoordigheid van die God van Israel was bokant die gerubs.

23. Die magtige teenwoordigheid van die Here het uit die stad uit opgestyg en op die berg oos van die stad gaan staan.

24. Daarna het die Gees my opgetel en my teruggebring na die land van die Galdeërs toe, na die ballinge toe. Dit het gebeur in die gesig wat ek deur die Gees van God gesien het. Die gesig was toe verby.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 11