Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 10:7-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. 'n Gerub het sy hand daar tussen die gerubs uit na die vuur toe uitgesteek wat tussen die gerubs was, en kole gevat en dit gesit in die twee hande van die man met die linneklere aan. Die man het dit gevat en uitgekom.

8. Onder die vlerke van die gerubs het iets sigbaar geword; dit het gelyk soos menshande.

9. Ek het langs die gerubs vier wiele gesien, een langs elke gerub. Die voorkoms van die wiele was dié van edelstene.

10. Hulle het eenders gelyk, en dit was of daar 'n wiel dwars binne 'n wiel was.

11. Hulle kon beweeg in die rigting van enige van hulle vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie.

12. Die gerubs se lywe, hulle rûe, hulle hande en vlerke en al vier wiele was rondom vol oë.

13. Iemand het vir my gesê dit is wiele.

14. Elke gerub het vier gesigte gehad: die eerste was dié van 'n gerub, die tweede dié van 'n mens, die derde dié van 'n leeu, die vierde dié van 'n arend.

15. Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde wesens as wat ek by die Kebarrivier gesien het.

16. Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg langs hulle, en wanneer die gerubs hulle vlerke gespan het om van die grond af op te styg, het die wiele nie van koers verander nie en langs hulle gebly.

17. Wanneer die gerubs gestaan het, het die wiele gestaan, en wanneer die gerubs opgestyg het, het die wiele opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele.

18. Die magtige teenwoordigheid van die Here het van die tempel se drumpel af beweeg en bokant die gerubs gaan staan.

19. Die gerubs het hulle vlerke gespan en voor my oë van die grond af opgestyg. Toe hulle beweeg, is die wiele saam met hulle. Die gerubs het by die ingang van die oostelike poort van die huis van die Here gaan staan, en die magtige teenwoordigheid van die God van Israel was bokant hulle.

20. Dit was dieselfde wesens as wat ek onder die God van Israel gesien het by die Kebarrivier, en ek het besef dit is gerubs.

21. Elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en onder hulle vlerke het dit gelyk of daar menshande is.

22. Hulle gesigte het gelyk soos die gesigte wat ek by die Kebarrivier gesien het. Elke wese het reg vooruit beweeg.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 10