Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:6-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad.

7. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is.

8. Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar menshande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad.

9. Die een se vlerke het aan die een langs hom s'n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg.

10. Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor dié van 'n mens, regs dié van 'n leeu, links dié van 'n bul, en agter dié van 'n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad.

11. Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek.

12. Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting waarin die Gees dit wou, en hulle het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie.

13. Die vorm van die wesens, hulle voorkoms, was soos dié van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet.

14. Die wesens het soos weerlig heen en weer geskiet.

15. Terwyl ek so na die wesens kyk, sien ek 'n wiel op die grond langs elke wese met sy vier gesigte.

16. Die voorkoms van die wiele en hulle afwerking was soos dié van edelstene. Hulle het eenders gelyk en al vier was so gemaak dat daar 'n wiel dwars binne 'n wiel was;

17. hulle kon in die rigting van enige van hulle vier kante beweeg, maar hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie.

18. Die wiele was groot en indrukwekkend en al vier se vellings was rondom vol oë.

19. Wanneer die wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opgestyg het, het die wiele ook opgestyg.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1