Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Die Here het 'n tyd vasgestel en Hy het gesê Hy sal dit die volgende dag in Egipte laat gebeur.

6. Die volgende dag doen Hy dit toe ook, en al die vee van Egipte is dood, maar van die vee van die Israeliete is daar nie een dood nie.

7. Die farao het navraag gedoen en jou werklik waar, nie 'n enkele stuk van die Israeliete se vee is dood nie.Tog was die farao steeds onversetlik: hy het die volk nie laat gaan nie.

8. Daarna het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Skep hande vol roet uit 'n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug opgooi.

9. Dit sal 'n fyn poeier word oor die hele Egipte en dit sal dwarsoor Egipte op mens en dier swere veroorsaak wat aanhoudend etter.”

10. Hulle het toe roet uit 'n oond gevat en voor die farao gaan staan. Toe Moses dit in die lug opgooi, kom daar op mens en dier swere wat aanhoudend etter.

11. Die towenaars kon Moses dit nie eens probeer nadoen nie, want hulle was vol swere. Die swere het op al die Egiptenaars uitgekom, ook op die towenaars.

12. Tog het die Here die farao nog steeds koppig laat bly. Hy het nie aan Moses en Aäron se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf vir Moses gesê het.

13. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan na die farao toe en sê vir hom: So sê die Here die God van die Hebreërs: Laat my volk gaan om My te dien,

14. anders gaan Ek jou hierdie keer met 'n groot ramp tref en ook jou amptenare en jou mense. Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie.

15. Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met 'n pes van die aarde af uitgewis het.

16. Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9