Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:24-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Die hael het geval; tussen die hael deur het die een blits op die ander gevolg, so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie.

25. Die hael het die hele Egipte getref, alles wat buite was, mens en dier. Al die plante is deur die hael weggeslaan, selfs al die bome is in repe geslaan.

26. Net in die Gosenstreek, waar die Israeliete was, was daar nie hael nie.

27. Die farao laat roep toe vir Moses en Aäron en sê vir hulle: “Nou erken ek ek was verkeerd. Die Here het reg, ek en my mense is skuldig.

28. Bid tog tot die Here. Die donderslae en hael is vir ons te erg. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.”

29. Toe het Moses vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande in gebed na die Here uitsteek. Dan sal die donderslae ophou, en daar sal nie meer hael wees nie, dat u kan besef dat hierdie land aan die Here behoort.

30. Wat u en u amptenare betref, ek weet u het nog nie ontsag vir God, die Here, nie.”

31. Die vlas- en die garsoes is vernietig omdat die gars in die aar en die vlas in die knop was,

32. maar die koring en die sorghum is nie vernietig nie omdat dit later ryp word.

33. Moses is van die farao af weg uit die stad uit, en hy het sy hande in gebed na die Here uitgesteek. Die donderslae en die hael het opgehou en die stortbuie het bedaar.

34. Toe die farao sien die reën, hael en donderslae hou op, het hy maar weer verkeerd gedoen. Hy en sy amptenare was onversetlik.

35. Die farao het koppig gebly en die Israeliete nie laat gaan nie, soos die Here vooraf deur Moses gesê het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9