Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 40:21-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Daarna het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel opgehang om die ark met die getuienis af te skort, soos die Here hom beveel het.

22. Hy het die tafel in die tent van ontmoeting neergesit, aan die noordekant van die tabernakel, buite die voorhangsel.

23. Hy het offerbrood daarop neergesit voor die Here, soos die Here hom beveel het.

24. Hy het die kandelaar in die tent van ontmoeting neergesit, regoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel.

25. Toe het hy die lampe opgesteek voor die Here, soos die Here hom beveel het.

26. Hy het die goue altaar in die tent van ontmoeting neergesit, voor die voorhangsel.

27. Toe het hy geurige wierook daarop aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

28. Hy het 'n afskorting in die deur van die tabernakel gehang.

29. Hy het die brandofferaltaar neergesit by die deur van die tabernakel, die tent van ontmoeting, en daarop brandoffers en graanoffers aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

30. Hy het die waskom neergesit tussen die tent van ontmoeting en die brandofferaltaar, en waswater daarin gegooi.

31. Moses, Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daarin gewas.

32. Elke keer as hulle by die tent van ontmoeting kom en na die altaar toe gaan, het hulle eers gewas, soos die Here vir Moses beveel het.

33. Daarna het hy die voorhof rondom die tabernakel en die altaar opgerig en die afskorting voor die ingang van die voorhof gehang. So het Moses sy werk afgehandel.

34. 'n Wolk het die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.

35. Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul.

36. Later het dit so gegaan: wanneer die wolk van die tabernakel af voor die Israeliete uit wegtrek, het hulle agter die wolk aan versit.

37. As die wolk nie weggetrek het nie, het hulle daar gebly totdat dit wel weggetrek het.

38. Die wolk van die Here was bedags 'n wolk oor die tabernakel en snags het dit 'n vuur daarbo-oor geword.So het die hele Israel dit ervaar elke keer as hulle versit.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 40