Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 40:12-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “Laat Aäron en sy seuns na die deur van die tent van ontmoeting toe kom en was hulle met water.

13. Laat Aäron dan die gewyde klere aantrek; salf en wy hom sodat hy vir My as priester kan diens doen.

14. Laat sy seuns ook naderkom en laat hulle ook hulle priesterklere aantrek.

15. Jy moet hulle salf soos jy hulle pa gesalf het sodat ook húlle vir My as priesters kan diens doen. Hulle salwing dui aan dat hulle en hulle nageslag vir altyd as priesters sal moet diens doen.”

16. Moses het alles gedoen presies net soos die Here hom beveel het.

17. Op die eerste dag van die eerste maand van die tweede jaar na die uittog is die tabernakel opgerig.

18. Moses het dit soos volg gedoen: hy het die voetstukke neergesit, die rame regop gesit, die dwarslatte vasgesit en die style regop gesit.

19. Hy het die tent oor die tabernakel gesit en die seil daarbo-oor gespan, soos die Here hom beveel het.

20. Hy het die getuienis gevat en dit in die ark gesit. Hy het die draaghoute van die ark ingesteek en die deksel bo-op die ark neergesit.

21. Daarna het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel opgehang om die ark met die getuienis af te skort, soos die Here hom beveel het.

22. Hy het die tafel in die tent van ontmoeting neergesit, aan die noordekant van die tabernakel, buite die voorhangsel.

23. Hy het offerbrood daarop neergesit voor die Here, soos die Here hom beveel het.

24. Hy het die kandelaar in die tent van ontmoeting neergesit, regoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel.

25. Toe het hy die lampe opgesteek voor die Here, soos die Here hom beveel het.

26. Hy het die goue altaar in die tent van ontmoeting neergesit, voor die voorhangsel.

27. Toe het hy geurige wierook daarop aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

28. Hy het 'n afskorting in die deur van die tabernakel gehang.

29. Hy het die brandofferaltaar neergesit by die deur van die tabernakel, die tent van ontmoeting, en daarop brandoffers en graanoffers aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 40