Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:2-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?”“'n Kierie,” antwoord Moses.

3. “Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom.Toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang, en Moses het daarvoor padgegee.

4. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.”Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie in sy hand.

5. Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.

6. “Steek nou jou hand in die vou van jou klere!”Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu.

7. Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.”Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond.

8. Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo.

9. “As hulle jou ná hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.”

10. Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4