Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 38:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Besaleël het 'n brandofferaltaar van doringhout gemaak, twee en 'n half meter in die vierkant en een en 'n half meter hoog.

2. Aan die vier hoeke het hy horings gemaak en dit het 'n eenheid met die altaar gevorm. Hy het die altaar met brons oorgetrek.

3. Hy het al die gereedskap vir die altaar van brons gemaak: potte, skoppe, komme, vurke en vuurpanne.

4. Hy het 'n bronstraliewerk om die altaar gemaak en dit onder die rand van die altaar vasgesit, sodat dit halfpad teen die altaar afloop.

5. Hy het vier ringe gegiet vir die vier kante van die bronsrooster om die draaghoute deur hulle te steek.

6. Hy het draaghoute van doringhout gemaak en met brons oorgetrek.

7. Die draaghoute is deur die ringe gesteek aan weerskante van die altaar om dit mee te dra. Die altaar is van plank gemaak, in die vorm van 'n kas.

8. Besaleël het 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk gemaak van bronsspieëls wat gekom het van die vroue wat by die deur van die tent van ontmoeting werk.

9. Hy het ook 'n voorhof gemaak. Aan die suidekant, die regterkant daarvan, was gordyne van goed geweefde linne, vyftig meter breed.

10. Om die gordyne te hang, was daar twintig style met twintig bronsvoetstukke, en ook kramme aan die style, en silwergordynstokke.

11. Ook aan die noordekant was daar gordyne, vyftig meter breed, twintig style met kramme, en silwergordynstokke en twintig bronsvoetstukke.

12. Aan die westekant was daar ook gordyne, vyf en twintig meter breed, tien style met kramme, en silwergordynstokke, en tien voetstukke.

13. Die voorkant, die oostekant, was vyf en twintig meter breed en

14. die gordyne was elkeen sewe en 'n half meter breed met drie style en drie voetstukke.

15. Aan weerskante van die deur van die voorhof was die gordyne sewe en 'n half meter breed, met drie style en drie voetstukke.

16. Al die gordyne rondom die voorhof was van goed geweefde linne.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 38