Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 37:16-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Hy het die toebehore vir die tafel van suiwer goud gemaak: skottels, panne, kanne en komme om die drankoffer mee uit te giet.

17. Hy het ook 'n kandelaar van suiwer goud gemaak. Die kandelaar se voetstuk, stam, blomkelke, knoppe en kroonblare is van geslae goud gemaak sodat dit alles een geheel was.

18. Daar was ses arms aan die stam, drie aan elke kant.

19. Daar was drie blomkelke in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare aan elke arm van die kandelaar. So was dit vir die ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak.

20. Vir die kandelaar se hoofstam was daar vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare.

21. Onder elke paar arms van die kandelaar was daar 'n knop.

22. Die knoppe en die arms was alles een stuk, een stuk suiwer geslae goud.

23. Besaleël het sewe lampies gemaak vir die kandelaar. Die pithouers en bakkies van die kandelaar is van suiwer goud gemaak.

24. Al hierdie voorwerpe is uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak.

25. Besaleël het 'n wierookaltaar van doringhout gemaak. Dit was 'n half meter in die vierkant en een meter hoog. Die altaar en sy horings was 'n eenheid.

26. Hy het die bokant, die sye rondom en die horings met suiwer goud oorgetrek. Besaleël het 'n goue lys rondom die altaar vasgesit.

27. Verder het hy twee goue ringe vir elke kant gemaak en dit aan weerskante, teenoor mekaar, onderaan die lys vasgesit om die draaghoute waarmee die altaar gedra moes word, daardeur te steek.

28. Hy het die draaghoute van doringhout gemaak en hulle met goud oorgetrek.

29. Hy het ook die gewyde salfolie en die geurige, rein wierook gemeng soos 'n bekwame vakman dit doen.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 37