Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:4-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Moses het toe twee plat klippe soos die voriges gekap. Nadat hy vroeg die oggend opgestaan het, het hy net soos die Here hom beveel het, Sinaiberg uitgeklim met die twee plat klippe in sy hand.

5. Die Here het in 'n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep.

6. Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.

7. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”

8. Moses het toe vinnig gebuig in eerbied

9. en gesê: “As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom.”

10. Toe het die Here gesê: “Ek sluit nou 'n verbond met julle. Voor jou hele volk gaan Ek magtige dade doen wat nog nooit tevore op die hele aarde onder enige nasie gedoen is nie. Die hele volk by wie jy is, sal sien wat Ek, die Here, doen. Wat Ek vir jou gaan doen, sal hulle met ontsag vervul.

11. “Wat Ek julle nou hier gaan beveel, moet julle gehoorsaam. Ek sal die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit verdryf.

12. Moenie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land waarheen julle gaan nie. Hulle sal julle tot 'n val bring.

13. “Nee, vernietig hulle altare, breek hulle klippilare af en kap hulle gewyde pale stukkend.

14. Julle mag nie 'n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis.’

15. “Julle mag nie 'n verdrag met die inwoners van die land sluit nie. Wanneer hulle onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode en vir hulle gode offers bring, sal die mense julle uitnooi na hulle offermaaltye toe, en julle sal daaraan deel hê.

16. Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.

17. “Julle mag nie afgodsbeelde maak nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34