Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 31:2-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. “Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. Hy is 'n seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda.

3. Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen:

4. ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk,

5. edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen.

6. Ek het vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, aangestel om saam met hom te werk. Aan elke vakman het Ek vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het:

7. die tent van ontmoeting, die ark met die getuienis daarin en die deksel daaroor, al die toebehore van die tent,

8. die tafel met sy toebehore, die kandelaar van suiwer goud met sy toebehore, die wierookaltaar,

9. die brandofferaltaar met al sy toebehore, die waskom met sy voetstuk,

10. die geborduurde klere wat gewy is vir die priester Aäron en sy seuns om daarin as priesters diens te doen,

11. die salfolie en die geurige wierook vir die heiligdom. Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het.”

12. Die Here het vir Moses gesê:

13. “Jy moet vir die Israeliete sê: Onderhou my sabbatte. Dit is van geslag tot geslag 'n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 31