Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 30:18-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. “Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin.

19. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was.

20. Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek,

21. moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.”

22. Die Here het vir Moses gesê:

23-24. “Gebruik die standaardmaat van die heiligdom en meet die volgende speserye af: vyf honderd dele vloeibare mirre, die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig dele geurige kalmoes, vyf honderd dele kassie, en vier liter olyfolie.

25. Maak daarvan gewyde salfolie, goed gemeng soos wanneer 'n vakman parfuum maak. Dit is die gewyde salfolie.

26. “Jy moet die tent van ontmoeting en die ark waarin die getuienis is, daarmee salf,

27. en verder ook nog die tafel met al sy toebehore, die kandelaar met al sy toebehore, die wierookaltaar,

28. die brandofferaltaar met al sy toebehore, en ook die waskom met sy voetstuk.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 30