Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 27:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “In die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet die gordyne vyf en twintig meter breed wees met tien style en tien voetstukke.

13. “Die breedte van die voorhof aan die voorkant, die oostekant, moet ook vyf en twintig meter wees.

14. Die gordyne aan die een kant hiervan moet sewe en 'n half meter breed wees, dit moet drie style en drie voetstukke hê,

15. en aan die ander kant moet die gordyne ook sewe en 'n half meter breed wees met drie style en drie voetstukke.

16. In die ingang van die voorhof moet daar 'n afskorting van tien meter wees. Dit moet van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne wees, netjiese borduurwerk. Om dit te hang, moet daar ook nog vier style en vier voetstukke wees.

17. Vir die style van die voorhof moet daar heeltemal rondom silwergordynstokke wees, en ook silwerkramme en bronsvoetstukke.

18. Die lengte van die voorhof moet vyftig meter wees, sy breedte vyf en twintig en sy hoogte twee en 'n half. Dit moet van goed geweefde linne wees en sy voetstukke van brons.

19. “Al die toebehore van die tabernakel en al sy tentpenne, sowel as dié vir die voorhof, moet van brons wees.”

20. “Beveel die Israeliete om vir jou besonder suiwer olyfolie vir die lampe te bring sodat die lig voortdurend kan brand.

21. In die tent van ontmoeting, net buite die voorhangsel wat voor die getuienis hang, moet Aäron en sy seuns die lampe van die aand af tot die môre toe voor My laat brand. Dit is 'n voorskrif wat vir altyd geld vir die hele Israel.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 27