Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. “Jy mag nie die bloed van die offerdier offer saam met iets wat suurdeeg in het nie. Die vet van die feesoffer wat jy vir My bring, mag nie tot die volgende oggend oorstaan nie.

19. “Die beste uit die eerste opbrengs van jou lande moet jy bring na die huis van die Here jou God toe.“Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”

20. “Ek, die Here, stuur 'n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het.

21. Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie. Hy sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie, want Ek het aan hom my volmag gegee.

22. As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders.

23. “My engel sal voor jou uitgaan en jou bring by die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete, en dan sal Ek hulle uitwis.

24. Jy mag nie hulle gode aanbid of dien nie. Jy mag nie daardie nasies se gewoontes oorneem nie. Jy moet hulle klippilare afbreek en stukkend slaan.

25. Jy moet die Here jou God dien. Dan sal Hy jou met kos en water seën en siekte van jou af weghou.

26. Daar sal geen miskraam en onvrugbaarheid in jou land wees nie. Ek sal jou met 'n lang lewe seën.

27. Ek sal die skrik vir My voor jou uit stuur en Ek sal alle volke met wie jy in aanraking kom, in verwarring bring. Ek sal al jou vyande laat vlug.

28. Ek sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete die skrik op die lyf jaag en hulle voor jou uit verdryf.

29. “Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 23