Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. “Drie maal per jaar moet jy tot my eer 'n fees hou.

15. “Jy moet die fees van die ongesuurde brood vier. Soos Ek jou al vroeër beveel het, moet jy sewe dae ongesuurde brood eet, van dié dag in die maand Abib af waarop jy uit Egipte weggetrek het. Die volk mag nie sonder offers voor My verskyn nie.

16. “Die fees van die oes moet gevier word met die eerste opbrengs van wat jy op die land saai.“Die fees van die insameling moet gevier word aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid ingesamel het op die lande.

17. “Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here God, verskyn.

18. “Jy mag nie die bloed van die offerdier offer saam met iets wat suurdeeg in het nie. Die vet van die feesoffer wat jy vir My bring, mag nie tot die volgende oggend oorstaan nie.

19. “Die beste uit die eerste opbrengs van jou lande moet jy bring na die huis van die Here jou God toe.“Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”

20. “Ek, die Here, stuur 'n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het.

21. Gee ag op die engel en luister na hom; moet jou nie teen hom verset nie. Hy sal jou nie vergewe as jy teen hom in opstand kom nie, want Ek het aan hom my volmag gegee.

22. As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders.

23. “My engel sal voor jou uitgaan en jou bring by die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete, en dan sal Ek hulle uitwis.

24. Jy mag nie hulle gode aanbid of dien nie. Jy mag nie daardie nasies se gewoontes oorneem nie. Jy moet hulle klippilare afbreek en stukkend slaan.

25. Jy moet die Here jou God dien. Dan sal Hy jou met kos en water seën en siekte van jou af weghou.

26. Daar sal geen miskraam en onvrugbaarheid in jou land wees nie. Ek sal jou met 'n lang lewe seën.

27. Ek sal die skrik vir My voor jou uit stuur en Ek sal alle volke met wie jy in aanraking kom, in verwarring bring. Ek sal al jou vyande laat vlug.

28. Ek sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete die skrik op die lyf jaag en hulle voor jou uit verdryf.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 23