Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:3-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. As hy alleen was toe hy jou slaaf geword het, moet hy alleen vrygelaat word. As hy toe getroud was, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.

4. As sy eienaar vir hom 'n vrou gegee het, en sy vir hom seuns of dogters in die wêreld gebring het, behoort die vrou en haar kinders aan die eienaar, en dan hoef net die slaaf vrygelaat te word.

5. As die slaaf egter uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders.

6. Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar 'n gaatjie in sy slaaf se oor steek met 'n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf.

7. “Wanneer 'n man sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie gewoonweg soos ander slawe vrygelaat word nie.

8. As haar eienaar wat haar as sy vrou wou hê, later nie meer van haar hou nie, moet hy toelaat dat sy deur haar eie mense losgekoop word. Hy het nie die reg om haar aan vreemde mense te verkoop nie, want dan pleeg hy troubreuk teenoor haar.

9. As die eienaar egter sou besluit om haar vir sy seun as vrou te gee, moet sy soos 'n dogter behandel word.

10. As die eienaar 'n ander vrou vat, mag hy die byvrou haar kos, klere en huweliksreg nie ontsê nie.

11. As hy hierdie drie dinge nie vir haar gee nie, moet sy vrygelaat word sonder dat daar iets aan haar eienaar betaal word.”

12. “Wie iemand doodslaan, moet doodgemaak word.

13. Hy wat dit onopsetlik gedoen het deurdat God dit met hom laat gebeur het, kan vlug na 'n plek toe wat Ek vir jou sal aanwys.

14. Wanneer iemand egter 'n ander opsetlik doodmaak, moet jy hom selfs by die altaar wegvat en doodmaak.

15. “Wie aan sy pa of ma slaan, moet doodgemaak word.

16. “Wie 'n ander ontvoer om hom te verkoop of om hom in sy besit te hou, moet doodgemaak word.

17. “Wie sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21